Speel jy dodelike speletjies met jou kind?

Published Dec 11, 2000

Share

Moet nooit jou baba speels in die lug opgooi nie. Moet ook nooit 'n kleuter wat jonger as twee jaar is, skud as jy hom dissiplineer nie. Albei kan tragiese gevolge hê as dit oordoen word.

Dié waarskuwing kom van 'n Pretoriase akademikus en pediater, dr Michael Lippert.

Hy sê min ouers is bewus van die wesentlike gevaar wat 'n oormatige geskud vir 'n baba se sagte skedel, onderontwikkelde brein en swak nekspiere inhou.

Hulle is dus ook nie bewus van die bestaan van die sogenaamde Skudbeseerdebabasindroom (SBS) nie.

Dié sindroom omskryf die hewige geskud van babas wat vertraagde groei, blindheid, motoriese defekte, skade aan die rugstring, bloeding op die brein, 'n koma, 'n toeval of selfs die dood tot gevolg kan hê.

Ná so 'n besering kan die baba se brein selfs binne dae tot die helfte van die oorspronklike grootte krimp.

Die mees opsigtelike simptoom van dié sindroom, sê dr Lippert, is bloeding in die oë. As 'n dokter dít teëkom, kan hy omtrent 100 persent seker wees dat die baba aan SBS ly.

En mense moenie dink dié sindroom kom net hier en daar voor nie.

'n Amerikaanse ondersoek in 1990 het byvoorbeeld getoon dat 20 persent van 2 000 kinders wat aan kindermishandeling gesterf het, letterlik doodgeskud is!

Twee hofsake wat onlangs wêreldwyd groot opslae gemaak het, was dié van die Britse au pair, Louise Woodward, wat aan strafbare manslag skuldig bevind is nadat sy in 1997 'n Amerikaanse babaseuntjie in haar sorg, Matthew Eappen, letterlik doodgeskud het.

En in Engeland het nóg 'n au pair, die Australiër Louise Sullivan, in Januarie 1999 beken dat sy 'n ses maande-oue babameisie, Caroline Jongen, erg geskud het. Dié baba is daarna aan ernstige kopbeserings dood.

Lewensgevaarlik

Hoewel sulke statistiek nie in Suid-Afrika gehou word nie, wys 'n dokter by die Transvaalse Gedenkinstituut vir Kindergesondheid in Johannesburg, daarop dat medici dikwels te doen kry met ouers wat volhou dat hulle nie hul babas mishandel het nie … al wat hulle gedoen het, was om met die kleinding te speel.

"Om 'n kind in die lug te gooi of hom vir dissiplinêre redes te skud, word nie deur enige dokter goedgekeur nie. Dit kan lewensgevaarlik wees. 'n Baba is baie kwesbaar omdat hy nog so swak is. As jy met hom wil speel, moet jy dit baie sagkens doen.

"Ouers moet altyd in gedagte hou dat die brein in 'n sak water binne die skedel gehuisves word. Deur die baba heen en weer te skud, kry jy basies dieselfde resultate as wanneer n bokser 'n harde hou teen die kop kry.

"Die brein stamp agter teen die skedel en kan in sommige gevalle bloeding op die brein of in die oë veroorsaak," sê sy.

Lei tot permanente pyn

Nog 'n speletjie wat volgens dié dokter ernstige probleme in die kind se latere lewe tot gevolg kan hê, is wanneer die ouers die kind aan sy arms optel en rondswaai.

"Die arms kan permanent beskadig word omdat die gewrigte in die skouers en elmboë tot die uiterste gerek word. Wanneer die kind dan ouer is, kan hy permanent pyn in hierdie gewrigte ondervind," sê sy.

Dr Lippert meen ook die gevaar van 'n baba speels in die lug gooi, het te doen met die baba se onderontwikkelde liggaam en nie soseer dat die ouer dalk kan mis vang nie.

Hy meen ook dis veel gevaarliker om 'n baba te skud as enigiets anders.

"Omdat 'n baba se kop groot is, die nekkie dun en die lyfie klein, beweeg die kop baie erg, al word die baba net matig aan die lyfie geskud. Ernstige kopbeserings kan dan voorkom," sê dr Lippert.

Stuiptrekking en skoki

Volgens hom verteenwoordig kopbeserings weens mishandeling sowat 95 persent van alle ernstige beserings by babas.

Babas met erge beserings beland dikwels in die dokter se spreekkamer met ernstige stuiptrekkings, skok en bloedarmoede.

"SBS kom veral voor by babas wat deur hul ouers geskud word om hulle te dissiplineer. 'n Ouer kan die baba dalk net matig skud terwyl hy met hom raas, maar hy weet nie watter skade hy kan aanrig nie.

"Die brein dryf binne die skedel in vog. Verder is 'n baba se brein baie sensitief vir erge heen en weer bewegings omdat dit eers op een jaar die hele skedel vul.

"Met 'n geskud skeur die bloedvate tussen die brein se oppervlakte en die sinusse en veroorsaak bloeding op die brein en/of agter die oë.

"Bloeding in die vliesruimte om die brein, frakture en kneusing kom ook by SBS-gevalle voor. Die bewussyn van kinders wat herhaaldelike skudsessies moes deurmaak, is beneweld, hulle kry maklik stuiptrekkings, is prikkelbaar en ontroosbaar," sê hy.

Hulle dink om te slaan is veel erger

Volgens dr Nickey Kruger, 'n senior lektor in die departement van onderrigstudies aan die Universiteit van Pretoria, en iemand wat al artikels oor SBS gepubliseer het, dink ouers wat hul kinders per ongeluk beseer dat hulle die kind nie so erg dissiplineer deur hom te skud nie.

"Dié ouers dink gewoonlik om aan die kind te slaan is 'n baie erger vorm van dissiplinering, maar in werklikheid is dit veel gevaarliker om 'n kind te skud wanneer jy vir hom kwaad is," sê hy.

Hy wys daarop dat 'n baba se brein baie kwesbaar is tot op ouderdom twee jaar.

Die kop verteenwoordig 10 persent van die kind se totale liggaamsgewig - in teenstelling met twee persent by volwassenes.

"Babas se nekspiere is ook baie swakker as dié van volwassenes. Dit beteken dat die gekombineerde effek van die gewig van die kop, die swakheid van die nekspiere en die baba se onvermoë om die beweging van die kop te beheer, veroorsaak dat geen energie gedurende 'n geskud deur die nekspiere geabsorbeer kan word nie. Dis dus selfs gevaarlik om 'n baba hard te wieg," sê hy.

Wou spog met baba

'n Verpleegsuster by die Gesondheidsdepartement van Kemptonpark behandel talle kinders met beserings wat per ongeluk of doelbewus toegedien is. Maar een geval onthou sy baie goed as gevolg van die tragiese gevolge.

"Dit was die egpaar se eerste kind en die pa was heeltemal in ekstase oor die baba. Hy het hom gereeld hoog in die lug gegooi, veral as hulle by 'n groep mense was - natuurlik om met die baba te spog voor die ander mense," vertel sy.

"Wanneer hy die kind so in die lug gegooi het, het die kind geskree, en die pa het gedink dis van plesier. Dan het hy dit maar net aanhou doen.

" 'n Paar maande later het die dokters vasgestel dat daardie baba, wat heeltemal normaal gebore is, in 'n ernstige graad vertraag is.

"Hoewel hulle in daardie stadium nog nie aan SBS gedink het nie, en die in-die-lug-gooiery van die baba nie as direkte oorsaak van die vertraagdheid kon aanwys nie, was daar eintlik geen ander oorsaak wat vertraagdheid so vinnig teweeg kon bring nie," vertel sy.

Sê nou maar 'n reus gooi jou die lug in

"Uit 'n sielkundige oogpunt is dit nogal nadelig om 'n pap babatjie in die lug te gooi. Hy is nog so klein dat hy nog nie geleer het wat vertroue tussen 'n ouer en 'n kind is nie.

"Dis dus vanselfsprekend dat hy sal skrik as hy skielik in die lug gegooi word. Jy sal op stuk van sake nie daarvan hou as 'n reus jou in die lug gooi nie!" sê dr Lanette Hattingh, 'n kliniese sielkundige van Johannesburg.

"Om sulke speletjies met kinders te speel, hang af van die vertrouensband tussen die ouer en die kind. Alles berus dus op vertroue.

"Dit is dus nie traumaties as 'n ouer sy kleuter in die lug opgooi nie, want as die vertroue tussen die ouer en die kleuter goed is, weet die kleuter daar is geen bybedoelings nie en dat die ouer hom weer gaan vang, " verduidelik sy.

"Maar as die ouer geneig is om die kind te mishandel, dan gaan dit vir daardie kind traumaties wees, want die kind gaan nooit seker wees wat om te verwag nie.

"Pa's wat lief is daarvoor om klein babatjies hoog bokant die kop te hou, moet dit liefs nie doen nie.

"Sulke speletjies behoort net met kleuters van twee jaar of ouer gespeel te word want dis hulle wat die band van vertroue al geleer het. Boonop is dit al bewys dat so 'n gegooiery 'n oorsaak van latere hoogtevrees is," sê sy.

Moenie vir die kind besluit nie

"Sou die pa sulke speletjies met sy kind speel en die kind hou nie daarvan nie, moet hy in elk geval onmiddellik daarmee ophou, anders kan dit vir die kind traumaties raak.

"Dis nog 'n rede waarom sulke speletjies nie met pap babas gespeel moet word nie. Hulle beskik nog nie oor die vermoë om te wys of hulle van iets hou of nie.

"Dis is dus baie onregverdig van die ouer om sommer namens die baba te besluit of hy van die speletjie gaan hou of nie.

"Party se houding is: as die kind van iets hou, is dit goed; as hy nie daarvan hou nie, is dit ook goed. Dit is verkeerd om hom te forseer om sekere dinge te doen wat hy nie self wil nie," sê sy.

Related Topics: