Veilig op pad elke dag

Published Jan 18, 2001

Share

Klein voetgangertjies loop soveel meer van 'n risiko om in 'n ongeluk te beland.

Kleuters se periferale visie is nog nie so goed ontwikkel nie; dus sien hulle nie alles wat van die kant af aankom nie en kan nie oordeel wanneer om 'n straat oor te steek nie.

Hulle het ook 'n baie kort aandagspan en kan maklik vergeet waarmee hulle besig is as hulle oor die straat moet loop.

Moet dus vir geen oomblik dink dat jy jou deel gedoen het as jy die outjie geleer het om "eers links, dan regs en dan weer links" te kyk nie!

Leer jou kind van baie jongs af die basiese padveiligheidsreëls en druk die erns van die saak op sy hart - maar aanvaar sy beperkinge en moet nooit 'n kind jonger as agt jaar alleen oor die pad laat loop nie.

Moet onder geen omstandighede wegtrek met jou motor, waar jy ookal is, maar veral in jou eie motoroprit, voordat jy driedubbel seker gemaak het alle kinders is veilig uit die pad nie.

Maak 'n reël om nooit te ry alvorens al die passasiers, veral die kleintjies, behoorlik vasgemaak is nie. Prent dit by jou kinders in dat die sitplekgordels deurentyd moet vasbly en nie speelgoed is nie.

Dis geen verskoning as die baba slaap om hom op die ma se skoot in die passasiersitplek te hou nie. Hy moet veilig in sy eie sitstoeltjie vasgemaak word.

'n Baba van jonger as nege maande moet in karstoeltjie in 'n agtertoe-kykposisie vasgemaak word om sweepslagbeserings te voorkom wanneer die voertuig skielik tot stilstand kom.

'n Kind van ouer as nege maande, wat dan omtrent 9kg weeg, kan in 'n vorentoe-kykposisie vasgemaak word.

Die agtersitplek is die beste plek vir 'n motorstoeltjie.

Indien jou motor veiligheidslugsakke het, moet jy liewer nie jou babastoeltjie voor op die passasiersitplek plaas nie, omdat daar ander ongeluksituasies soos versmoring en inwendige beserings kan ontstaan.

As die motorstoeltjie na agter kyk, kan dit teen die sitplek vasgedruk word in 'n ongeluk; indien dit vorentoe kyk, kan die lugsak in die kind se gesig oopgaan en hom heeltemal omring en versmoor.

Dit maak die reis altyd makliker as jy tydens die baba se slaaptyd ry. Probeer dus jou reistyd so beplan.

Geld nie 'n oorweging

Maak seker dat daar niks in die motor is wat kan rondvlieg as daar 'n botsing is - selfs 'n "onskuldige" doos snesies in die agterste venster kan die baba 'n lelike hou toedien.

Moet liewer nie 'n gebruikte motorstoeltjie koop nie - dit kon reeds in 'n ongeluk gewees het of 'n harde satamp gehad het en kan verswak wees.

Geld moenie 'n oorweging wees wanneer jy motorveiligheid vir jou kind verseker nie.

Laat die stoeltjie professioneel installeer as jy dit nie honderd persent reg kan doen nie.

Indien jou kind saam met familie of vriende gaan ry, gee sy eie motorstoeltjie vir hulle om te gebruik.

Kinderskoenesak teen venster

Indien jy 'n motor huur, maak vooraf seker dat daar 'n motorstoeltjie in is. Dis egter veel veiliger om jou eie motorstoeltjie saam te neem, indien dit prakties moontlik is.

'n Goeie plan is om 'n kinderskoenesak teen die motor se agterste venster op te hang. Dit keer die skerp sonlig uit die kleingoed se oë en die sakke voorsien pakplek vir die inkleurboeke en ander speelgoed wat hulle saamneem.

Hou van tyd tot tyd stil (by 'n speelpark as dit moontlik is) sodat die kleintjies hulle van hulle ingehoue energie ontslae kan raak..

Vermy enige etery tydens die reis. Behalwe dat die kinders die motor vreeslik kan bemors, kan hulle verstik of naar word terwyl jy ry en dalk nie dadelik kan stilhou om te help nie.

Dit behoort net soos by die huis te wees - kinders hoef nie die hele tyd te kou nie - 'n deurmekaar etery kan boonop hulle magies omkrap.

Hou op gewone etenstye stil en eet by 'n eetplek of geniet 'n piekniekete.

Smeer aan

Onthou om sonbrandroom byderhand te hou tydens die reis.

Wanneer jy die kinders byvoorbeeld 'n rukkie by die speelpark laat rondbaljaar, moet jy nie nalaat om sonblok aan te smeer nie.

Daar is ouderwetse aanspuitsonrome deesdae op die mark wat kinders nie so irriteer soos 'n aansmeerdery nie.

Dis ook wys om die insekweerder nie te diep in te pak nie - wend gerus 'n bietjie aan waar julle stilhou om te eet of bene te rek - muskiete en ander goeters is oral waar daar plante is.

Related Topics: